Die naaswenner van Die Kontrak se tweede seisoen, Dodo Nyoka, het die Afrikaanse musiekbedryf op hol gejaag met die afloop van dié kompetisie, sy Afrikaans is Groot debuut en die vrystelling van sy debuutalbum Foto’s, waarvan die titelsnit al meer as 13.5 miljoen strome tot op hede het.

Nyoka is gebore in die DRC, aan die grens van Rwanda. Hy het grootgeword in die Oos-Kaap en deesdae is Benoni sy tuisdorp. Mense wat met Dodo te doen kry, sal verbaas wees om te leer dat hy op skool gehakkel het. Dis waar hy tot sang en redenaars as kommunikasie hulpmiddel gedraai het. In 2019 is hy as nasionale wenner van die ATKV-redenaarskompetisie aangekondig en begin hy om motiveringsessies met skoliere regoor die land te hou om geld in te samel vir renosterbewaring. Soveel só, dat dit hom erkenning van die Britse koninklike familie opgelewer het.