Sy persoonlikheid, rasperstem en plakkies is wat maak dat die wenner van Die Kontrak seisoen 3, Chris Steyn, se aanhangers so verlief geraak het op hom. Dié oud Affie het vir die eerste keer op ’n verhoog geklim tydens sy deelname aan dié gewilde sangkompetisie. En binne ’n paar maande het hy gegaan van onervare kunstenaar tot by een van die gewildste kunstenaars by Afrikaans is Groot.


Die titelsnit van sy album Helemal het binne een dag die nommer een posisie op die Afrikaanse Apple Music ranglys ingeneem, en die éinste album staan al bykans op vyf-miljoen strome. Met hierdie selfgeskrewe materiaal en geliefde weergawes van liedere, soos “Kom en lê my neer,” “Gee die hond wind,” en “By Jou,” saam met sy Kontrak-mentor, Demi Lee Moore, kom dit as geen verassing dat dié nuweling se kalender besig is om by die dag voller te raak nie.